Gregoriaanse gelyksang is die sentrale tradisie van Westerse gelyksang, 'n vorm van monofoniese, onbegeleide heilige sang in Latyn (en soms Grieks) in die Rooms-Katolieke Kerk. Gregoriaanse gelyksang het hoofsaaklik in die negende en tiende eeu in Sentraal- en Wes-Europa ontstaan, met latere toevoegings en verwyderings. Hoewel die gewilde storie lui dat Gregoriaanse gelyksang deur pous Gregorianus uitgevind is, glo die meeste akademici tans dat dit uit 'n latere Karolingiese samevoeging van die Roomse en Gallikaanse gelyksang ontstaan het.
Gregoriaanse gelykgesang is aanvanklik in vier, daarna agt en uiteindelik 12 modusse georganiseer. Tipiese melodiese kenmerke sluit in ’n kenmerkende ambitus, kenmerkende intervalpatrone relatief tot die verwysende modusfinalis, -inval en -kadens, die gebruik van ’n resiteernoot op ’n spesifieke afstand van die finalis en waarom die ander note van die melodie verweef is, asook 'n skat van musiekmotiewe wat deur 'n proses van sentonisasie saamgeweef word om families van verwante gelyksange te skep. Skaalpatrone word teen 'n agtergrondpatroon georganiseer wat deur saamgevoegde of geskeie tetrachorde gevorm word. Dit skep ’n groter toonhoogtestelsel wat die gammas genoem word. Gelyksang kan gesing word deur sesnootpatrone (hexachorde) te gebruik. Gregoriaanse melodieë word tradisioneel in neume weergegee – 'n vroeë musieknotasievorm waaruit die moderne vier- en vyflynbalk ontwikkel het.[1] Meerstemmige versierings van Gregoriaanse gelyksang, wat as organum bekend gestaan het, was 'n vroeë voorloper van Westerse polifonie.
Die Gregoriaanse gelyksang word tradisioneel deur mans- en seunskore in kerke gesing, of deur mans en vroue in godsdienstige ordes in hul onderskeie kapelle. Dit is die musiek van die Roomse Rite wat in die Mis en die kloosteroffisies uitgevoer word. Hoewel Gregoriaanse gelyksang die ander inheemse gelyksangtradisies van die Christelike Weste verdring en gemarginaliseer het en só uiteindelik die amptelike musiekstyl van die Christelike liturgie geword het, word ambrosiese gelyksang nog steeds in Milaan gebruik. Boonop bestudeer musikoloë nou ook hierdie asook die Mosarabiese gelyksang van Christelike Spanje. Hoewel Gregoriaanse gelyksang nie meer verpligtend is nie, beskou die Rooms-Katolieke Kerk dit steeds amptelik as die mees geskikte styl vir kerkmusiek.[2] In die 20ste eeu het Gregoriaanse gelyksang 'n musikologiese en populêre herlewing beleef.